Lekker tuis gemaak smeer

TuISGEMAAKTE KAASSMEER:


4 koppies melk
500 g margarine (goeie romerige soort)
1 kg cheddar kaas
sout en swart peper na smaak
Kook alles saam en meng deeglik.

Opsioneel: Meng ongeveer R10 se fyn biltong daarby.
Bottel warm en bêre in yskas wanneer afgekoel.
__________________________________________________________________________________

TUISGEMAAKTE KONDENSMELK:

1.25 liter melk 2ml koeksoda
500g suiker
3ml sout

Voeg alle bestanddele bymekaar en roer oor lae hitte totdat die suiker opgelos is. Kook stadig totdat die melk soos dik room begin lyk. Moenie roer nie, tensy melk wil oorkook. Gooi in flesse wat gesteriliseer is en plaas vir 15 minute in voorverhitte oond van 120C. Skroef daarna dadelik toe.
________________________________________________________________________________

TUISGEMAAKTE MAYONNAISE:

2 eiergele 2ml mosterdpoeier
5ml suiker
2ml sout
knippie witpeper
10ml suurlemoensap of asyn
250ml olyf of kookolie of ‘n mengsel daarvan

Klits die eiergele, mosterd, suiker, sout, witpeper en suurlemoensap of asyn saam in ‘n mengbak. Hou aan met klits en voeg die olie druppel vir druppel by. Sodra die mengsel begin verdik, kan meer olie op ‘n slag bygevoeg word. (Gewoonlik na 60-75ml) Hou aan met klits totdat al die olie bygewerk is.
____________________________________________________________________________________

TUISGEMAAKTE MOSTERD:


397g kondensmelk
250ml suiker
110g mosterdpoeier
200ml mayonnaise
200ml asyn

Meng die kondensmelk, suiker en mosterdpoeier. Voeg die mayonnaise en asyn by en meng. Klits dit goed met ‘n eierklitser. Bewaar dit in die yskas.
Lewer ongeveer 1 liter.
____________________________________________________________________________________________

TUISGEMAAKTE TOEBROODJIESMEER:

6 geelwortels 2groen soetrissies
1 rooi soetrissie
3 uie
1 Engelse komkommer
750ml wit asyn
750ml mayonnaise
12.5ml suiker
sout en peper na smaak

Skraap of skil die geelwortels, verwyder die soetrissies se pitte en skil die uie af. Kap al die groente baie fyn en plaas dit in 'n vlekvrye staalbak. Giet die asyn oor die groente en laat dit oornag staan. Dreineer die groente goed en druk dit droog. Voeg die mayonnaise, suiker en sout en peper na smaak by die groentemengsel en meng dit goed. Skep in droë, gesteriliseerde flesse en verseël dadelik. Bêre die toebroodjiesmeer in die yskas.
___________________________________________________________________________________

TUISGEMAAKTE GOUESTROOP:

6x250ml suiker
750ml koue water
15ml kremetart

Meng suiker, kremetart en die helfte van die water in 'n kastrol. Roer oor lae hitte totdat suiker opgelos is. Kook oor matige hitte tot stroop ligbruin van kleur is, sowat 15-20 minute. Voeg die res van die water stadig by. Verwyder van hitte en gooi in, gesteriliseerde flesse. Verseël dadelik.
____________________________________________________________________________________

KONFYT

APPELKOOSKONFYT:

1kg appelkose
5x250ml suiker

Was die appelkose, halveer dit en verwyder die pitte. Pak die vrugte in lae met suiker in ‘n groot kastrol. Laat dit 12 uur lank staan. Verhit dit stadig oor lae hitte totdat die suiker heeltemal opgelos is. Kook die konfyt ongeveer 30 minute lank vinnig. Skep skuim wat bo-op vorm af. Die konfyt moet helder wees en soos dik lawa lyk. Skep die konfyt in warm, droë, gesteriliseerde flesse en verseël dadelik.
____________________________________________________________________________________

GEELPERSKE KONFYT:

2.5kg geelperskes
750ml water
7x250ml suiker
5ml wynsteensuur

Ontpit en skil die perskes. Snipper dit. Plaas perskes in ‘n kastrol en voeg die water by. Kook die snippers ongeveer 10 minute lank totdat dit sag is. Roer die suiker en wynsteensuur by totdat die suiker heeltemal opgelos is. Stel die plaat op en kook die konfyt oor matige hitte totdat dit soos dik lawa lyk. Toets of stolpunt bereik is. Skep in warm, droë, gesteriliseerde flesse en verseël dadelik.
_____________________________________________________________________________________

UIE KONFYT:

Heerlik saam met alle vleissoorte.


450g uie, in ringe gesny
100g preie, in ringe gesny
50g grasuie, fyngekap
1 liter water
750ml suiker
5ml gemengde speserye

Kook die ui, prei en grasui in 'n bietjie water tot net sag. Dreineer goed. Voeg die 1 liter water, suiker en speserye by en roer tot die suiker opgelos is. Bring tot kookpunt en prut tot die mengsel verdik en nie meer waterig is nie. Skep in gesteriliseerde flesse terwyl dit nog warm is.
Lewer 750ml.
________________________________________________________________________________

TURKSVY FYNKONFYT:

Skil 1kg ryp turksvye dun af en sny dit in klein stukkies op. Voeg 625ml water by, verhit dit tot kookpunt en kook dit 'n kwartier lank met die deksel op. Haal die kastrol van die stoof af. Voeg 375g wit suiker, die sap van 'n halwe suurlemoen, 1 knoets gekneusde, gedroogde gemmerwortel en 'n knippie sout by die warm turksvymoes. Verhit die mengsel stadig tot kookpunt en roer dit aan die begin totdat al die suiker opgelos is. Kook dit oor matige hitte totdat die konfyt helder en dik is. Verwyder die gemmer en gooi dit weg. Skuim die konfyt af, indien nodig. Bottel dit warm en verseël dit wanneer afgekoel.
___________________________________________________________________________________

VYE KONFYT:


2.5kg vye
3 knoetse gedroogde gemmerwortel
2.5kg wit suiker
1 liter water
500ml druiwe asyn

Sny die vye in stukkies op. Kneus die gemmer en bind in 'n stukke moeselien of kaasdoek toe. Verhit die suiker, water en asyn tot kookpunt en roer dit aan die begin totdat al die suiker opgelos is. Kook dit 10 minute lank. Voeg die vye en gemmersakkie by die stroop en prut die mengsel ongeveer 4 uur lank totdat dit dik is. Verwyder die gemmersakkie en gooi dit weg. Skuim die konfyt af indien nodig, en laat dit 'n paar minute afkoel. Roer die konfyt goed deur, bottel dit warm en verseël dit dadelik.
__________________________________________________________________________________

No comments:

Post a Comment

Comment