Sunday, March 13, 2011

KLEIN KOEKIES

REPELSTEELJIES:

250g botter                                                                  
500ml koekmeelblom
2.5ml sout                                                                     
2.5ml bakpoeier
650ml gerasperde Cheddarkaas                                    
appelkooskonfyt

Verroom botter en voeg meel, sout en bakpoeier by. Meng goed. Voeg kaas by en meng tot 'n deeg.  Rol deeg in balletjies en plaas op 'n gesmeerde bakplaat. Druk 'n gaatjies met 'n houtlepel in die middel van elke koekie, maar moenie dwarsdeur druk nie. Skep 'n mespuntjie konfyt in die middel . ( As jy te veel konfyt insit, sal dit oorkook tydens die bakproses). Bak sowat 10-15 minute in 'n voorverhitte oond by 180C. Lewer sowat 5 dosyn koekies.
____________________________________________________________________________

HERTZOG KOEKIES:

KORS:
450ml koekmeel(ongesif afgemeet)                             
35ml strooisuiker
10ml bakpoeier                                                               
1ml sout
125g margarien by kamer temperatuur                         
15ml koue water
3 gele van ekstra groot eiers
VULSEL:
50-75ml fyn appelkooskonfyt                                         3 eierwitte van ekstra groot eiers
300ml suiker                                                                    500ml klapper

KORS:
Sif die koekmeel, strooisuiker, bakpoeier en sout saam. Vryf die margarien liggies met vinger punte in tot goed gemeng. Klits die eiergele en water effens, voeg by die meelmengsel en meng tot 'n sagte, hanteerbare deeg. Voeg nog 'n bietjie water by as die deeg te styf is. Knie die deeg goed. Bedek en laat eenkant staan. Voorverhit die oond tot 180C. Smeer die holtes van kolwyntjiepannetjies. Rol die deeg dun uit op 'n meelbestrooide werkoppervlak. Druk groot sirkels met 'n koekiedrukker uit en voer die panne en holtes daarmee uit.

VULSEL:
Skep 'n teelepel appelkooskonfyt in die middel van elke korsie. Klits die eierwitte tot styf. Klits die suiker geleidelik in. Roer die klapper in. Skep lepelsvol van die vulsel op die appelkooskonfyt op die korsies. Bak die koekies 20-25 minute op die middelste oondrak. Laat hulle effens in die panne afkoel. Lewer 12-15 porsies.
_________________________________________________________________________________

GEMMERKOEKIES:

125 ml botter                                                                 
125 ml gouestroop
1 eier                                                                             
750 ml koekmeelblom
250 ml suiker                                                                 
15 ml gemmer
5 ml koeksoda                                                                 
2 ml sout
35 ml melk

Voorverhit die oond tot 180C en smeer 'n bakplaat. Smelt die botter en roer die gouestroop by. Laat afkoel. Klits die eier by. Sif die droë bestanddele saam en roer dit afwisselend met die melk in die stroop-mengsel. Verkoel deeglik in die yskas tot dit styf genoeg is om te vorm. Maak balletjies en sit dit op die bakplaat. Druk dit effens plat met 'n vurk. Bak vir ongeveer 10 minute tot lig-bruin.
_______________________________________________________________________________

KOOKMELK KOEKIES

6x250ml ongesif afgemeet koekmeelblom                        
1ml sout
500g margarien                                                               
500ml suiker
125ml melk                                                                    
10ml koeksoda

Meng koekmeelblom en sout. Vryf margarien met vingers daarin tot goed gemeng. Verhit suiker, melk en koeksoda saam oor matige hitte in ‘n groot kastrol tot kookpunt. Roer af en toe en pasop vir oorkook, want mengsel begin skuim wanneer dit begin kook. Gooi warm kookmelkmengsel oor meelmengsel en meng goed. Plaas in ‘n houer met ‘n deksel, maak toe en verkoel oornag. Maak koekies en plaas ‘n entjie uitmekaar op ‘n bakplaat. As die deeg in balletjies gerol word, druk hulle met ‘n vurk platter. Bak in ‘n voorverhitte oond by 200C vir 10-12 minute. Laat effens afkoel en plaas dan op ‘n draadrak om heeltemal koud te word. Hierdie deeg kan ook deur ‘n vleismeul koekiemaker gedruk word met verskillende vorms.
Lewer sowat 12 dosyn koekies.
_________________________________________________________________________________

KOFFIE KOEKIES

750ml botter                                                               
250ml suiker
25ml stroop                                                                   
25ml koffie ekstrak
5ml vanilla                                                                     
60ml melk
5ml koeksada                                                                
5 koppies koekmeel
½ teelepel sout

Klop botter en suiker goed. Meng melk en koeksoda.Meng alles met koekmeel en knie. Gebruik vleismeule of koekiedrukker en sny koekies. Bak ± 20 minute by 180C.

VULSEL:
250ml suiker                                                                  
125ml melk
250ml botter                                                                   
5ml vanilla

Kook alles saam vir 5 minute. Klop tot koud en styf. Skep in gaar koekies en sit op mekaar.
_______________________________________________________________________________

GENERAAL KOEKIES:

135ml botter of margarien                                            
125ml bruinsuiker
1 groot eier                                                                    
250ml bruismeel
3ml koeksoda                                                               
125ml hawermout
125ml klapper                                                               
125ml gesoute grondbone
85ml graanvlokkies, fyngedruk    

Room die botter of margarien en bruinsuiker. Voeg die eier by en klits dit goed. Sif die bruismeel  en koeksoda by en vou dit by die eiermengsel in. Voeg die hawermout, klapper, grondbone en graanvlokkies by en meng goed. Skep lepelsvol van die deeg effens uitmekaar op ‘n liggies gesmeerde bakplaat. Bak dit 10-12 minute lank in ‘n voorverhitte oond by 180C, tot goudbruin.
_____________________________________________________________________________

 HAWERMOUTKOEKIES:

500ml hawermout                                                         
250ml suiker
250ml meelblom                                                            
250ml fyn klapper
12.5ml stroop                                                                
250ml botter
5ml koeksoda

Smelt botter en stroop en roer die koeksoda in. Dit moenie te warm wees nie, anders gis alles uit, ook nie te koud nie, anders proe alles na koeksoda (jy weet seker..). Voeg die res van die droë bestandele by. Gooi in lae pannetjies en bak in die oond tot dit bruin is teen 180C. Sny terwyl dit nog warm is.
__________________________________________________________________________________

OUTYDSE SOETKOEKIES:

10 koppies meel                                                                 
4 koppies suiker
500g margarien                                                              
6 eiers
10 teelepels bakpoeier                                                  
knippie sout
½ koppie lou water

Sif alle droë bestanddele saam. Klits botter en suiker vir ongeveer 10 minute tot room, en voeg eier een vir een by, klits goed. Voeg droë bestanddele by die suiker, margarien en eier mengsel. As deeg ‘n bietjie styf is voeg ‘n kwart tot ‘n halwe koppie lou water by en meng deur. Laat deeg vir ongeveer een uur staan. Rol uit op meel bestrooide oppervlakte en druk uit. Pak in gesmeerde bakplate. Bak teen 180°C vir 10 minute of tot ligbruin.
_________________________________________________________________________________

OUTYDSE SPESERYKOEKIES:

425g banketmeelblom                                                
3ml sout
3ml koeksoda                                                                
5ml fyn kaneel
3ml fyn naeltjies                                                            
200g karamelbruinsuiker
125g botter                                                                    
1 eier (geklits)
90ml sjerrie of port                                                        
5ml lemoenskil, gerasper
amandelsplinters vir versiering

Sif meel, sout, koeksoda, kaneel, naeltjies en suiker saam. Vryf botter in. Voeg eier, sjerrie en skil  by. Bedek deeg en laat ongeveer 1 uur lank staan. Rol deeg uit tot 3mm-dikte. Druk ronde koekies uit,druk ‘n stukkie amandel in die middel van elke koekie vas. Plaas op ‘n gesmeerde bakplaat. Bak ongeveer 15 minute lank in voorverhitte oond by 200C.  
_________________________________________________________________________________

MILJOENERS BROSBROOD:

250g sagte botter of margarien                                       
5ml vanielje geursel
100ml suiker                                                                  
800ml koekmeelblom
125g gepelde amandels, gekap                                      
1 eiergeel
25ml brandewyn                                                           
versiersuiker

Voorverhit die oond tot 160C en voer 2 bakplate uit met bakpapier. Verroom die botter of margarien en suiker goed saam tot lig en romerig. Klits die eiergeel, brandewyn en vanielje geursel by. Voeg die meel en amandels by en knie tot ‘n sagte deeg. Rol in bolletjies, druk effens plat en pak op bakplate. Bak 30 minute tot gaar, maar steeds lig van kleur. Pak warm in ‘n bak met versiersuiker en laat dit so afkoel.

No comments:

Post a Comment

Comment