Friday, March 11, 2011

Tuis gemaak

TUISGEMAAKTE KAASSMEER:

4 koppies melk                                                              
500 g margarine (goeie romerige soort)
1 kg cheddar kaas                                                 
sout en swart peper na smaak
Kook alles saam en meng deeglik.

Opsioneel: Meng ongeveer R10 se fyn biltong daarby.
Bottel warm en bêre in yskas wanneer afgekoel.
________________________________________________________________________________

TUISGEMAAKTE KONDENSMELK:

1.25 liter melk                                                                 
2ml koeksoda
500g suiker                                                                    
3ml sout

Voeg alle bestanddele bymekaar en roer oor lae hitte totdat die suiker opgelos is. Kook stadig totdat die melk soos dik room begin lyk. Moenie roer nie, tensy melk wil oorkook. Gooi in flesse wat gesteriliseer is en plaas vir 15 minute in voorverhitte oond van 120C. Skroef daarna dadelik toe.
__________________________________________________________________________________

TUISGEMAAKTE MAYONNAISE:

2 eiergele                                                                       
2ml mosterdpoeier
5ml suiker                                                                     
2ml sout
knippie witpeper                                                              
10ml suurlemoensap of asyn
250ml olyf of kookolie of ‘n mengsel daarvan

Klits die eiergele, mosterd, suiker, sout, witpeper en suurlemoensap of asyn saam in ‘n mengbak.
Hou aan met klits en voeg die olie druppel vir druppel by. Sodra die mengsel begin verdik, kan meer olie op ‘n slag bygevoeg word. (Gewoonlik na 60-75ml) Hou aan met klits totdat al die olie bygewerk is.
_________________________________________________________________________________
TUISGEMAAKTE MOSTERD:

397g kondensmelk                                                           
250ml suiker
110g mosterdpoeier                                                       
200ml mayonnaise
200ml asyn

Meng die kondensmelk, suiker en mosterdpoeier. Voeg die mayonnaise en asyn by en meng. Klits dit goed met ‘n eierklitser. Bewaar dit in die yskas.
Lewer ongeveer 1 liter.
___________________________________________________________________________________
TUISGEMAAKTE TOEBROODJIESMEER:

6 geelwortels                                                                
2 groen soetrissies
1 rooi soetrissie                                                            
3 uie
1 Engelse komkommer                                                  
750ml wit asyn
750ml mayonnaise                                                          
12.5ml suiker
sout en peper na smaak

Skraap of skil die geelwortels, verwyder die soetrissies se pitte en skil die uie af. Kap al die groente baie fyn en plaas dit in 'n vlekvrye staalbak. Giet die asyn oor die groente en laat dit oornag staan. Dreineer die groente goed en druk dit droog. Voeg die mayonnaise, suiker en sout en peper na smaak by die groentemengsel en meng dit goed. Skep in droë, gesteriliseerde flesse en verseël dadelik. Bêre die toebroodjiesmeer in die yskas.
_________________________________________________________________________________

TUISGEMAAKTE GOUESTROOP:

6x250ml suiker                                                             
750ml koue water
15ml kremetart

Meng suiker, kremetart en die helfte van die water in 'n kastrol. Roer oor lae hitte totdat suiker opgelos is. Kook oor matige hitte tot stroop ligbruin van kleur is, sowat 15-20 minute. Voeg die res van die water stadig by. Verwyder van hitte en gooi in, gesteriliseerde flesse. Verseël dadelik.

No comments:

Post a Comment

Comment