Sunday, March 13, 2011

Iets om te drink

KORINGBIER

Was 250ml broodkoring deeglik en laat dit 24 uur lank in koue water week. Gooi die water af en voeg 250ml bruinsuiker, 6 gekneusde rosyne, ¼ koekie gis en 1.5 liter lou water daarby. Roer tot die suiker opgelos is en sit die deksel liggies op.
‘n Groot vrugte vles of ‘n vererde emmertjie 1 en ‘n ¾ liter bevat, is ‘n geskikte houer.
Laat dit 24 uur lank staan en gooi die vloeistof af. Bottel dit en laat dit 12 tot 24 uur staan voor gebruik. Gooi weer 250ml bruinsuiker by die koring en rosyne, voeg 1.5 liter lou water by, roer dit om en laat dit weer 24 uur lank staan voor dit afgegooi word. Herhaal die proses elke dag en bottel die vloeistof wat afgegooi word. 12-tot 24uur nadat dit gebottel is, sal die bier gereed wees. Dien dit koud op.

L.W Die eeste 2 of 3 keer sal die bier baie flou wees en ‘n lang tyd in beslag neem nadat dit gebottel is, om te gis. Dit kan weggegooi word en eers na die derde toevoeging van suiker en water gebottel word. Die proses kan 5 tot 6 weke lank elke dag herhaal word met die gebruik van dieselfde koring. Wanneer die gisting goed aan die gang is moet dit nie langer as 12 uur gelaat word voordat die bier afgegooi word nie, anders sal die koring suur word. Indien ‘n paar stukke gekneuste gemmer en/of ‘n paar stukke pynappelskil by die koring gevoeg word, sal dit die smaak van die bier verbeter.
_____________________________________________________________________________

RABARBERBIER:

15 stingels rabarber (was net af en moenie skil nie) gesny in blokkies
2,5 kg suiker                                                                
1 groot eetlepel wynsteensuur
5 liter kookwater                                                             
25ml suurlemoengeursel
10g korrelsuurdeeg

Meng alles in ´n groot plastiekemmer. Laat afkoel. Voeg 10g korrelsuurdeeg (of ´n halwe koekie suurdeeg), opgelos in ´n bietjie lou water, by sodra die mengsel op liggaamstemperatuur is. Voeg nog 10 liter koue water by. Laat staan oornag. Syg deur, bottel en plaas in die yskas.
_________________________________________________________________________________

AARTAPPELWYN:

Skil 2 groot aartappels en rasper dit fyn. Voeg daarby 5 liter louwarm water, 2kg karamelsuiker, 1kg rosyne, 350g koringkorrels, die fyngerasperde skil en sap van 2 groot suurlemoene asook 30g aktiewe droëgis. Bedek die houer met 'n doek en laat die mengsel gis. Roer dit af en toe. Syg die mengsel na 3 weke deur en bottel die filtraat. Die wyn sal na 'n maand helder word. Gooi 'n bietjie witsuiker in elke bottel en kurk toe. Die wyn is nou reg om gedrink te word, maar hoe langer dit verouder, hoe lekkerder smaak dit.

GEMMERBIER:

20ml gemaalde gemmer                                               
10 liter lou water
1.6kg wit suiker                                                              
150g rosyne
10g aktiewe droëgis                                                       
10ml kremetart
10ml wynsteensuur

Voeg die gemmer by die water en suiker en roer tot die suiker opgelos is. Voeg die res van die bestanddele by. Giet die mengsel in 'n plastiekemmer met 'n deksel en laat dit 24 uur lank gis. Syg die bier daarna deur en giet die filtraat in gesteriliseerde bottels. Moenie die bottels te vol maak nie. Plaas 2-3 van die rosyne in elke bottel en draai die proppe lossies vas. Laat die bier 'n dag of twee by kamertemperatuur gis voordat dit in die koelkas bewaar word.
_________________________________________________________________________________

LEMOEN-EN-SUURLEMOEN-STROOP:

8 sappie lemoene                                                        
4 sappige suurlemoene
1.5liter kookwater                                                          
1.2kg wit suiker
15ml wynsteen of sitroensuur

Rasper net die oranje en geel buiteskil vandie lemoene en suurlemoene dun af. Moet nie die albedo ook rasper nie aangesien dit die stroop bitter sal laat smaak. Druk die sap van die lemoene en suurlemoene uit en voeg dit by die gerasperde skil. Voeg die res van die bestanddele by en roer tot die suiker opgelos is. Verhit die mengsel tot kookpunt en kook dit vir 5 minute lank. Laa die stroop afkoel, syg dit deur en bottel en verseël dit.
OM TE SKINK:
Skink dit in lang glase, na smaak verdun met soda of yswater, met 'n paar ysblokkies.
_________________________________________________________________________________

MAROELABIER:

1 liter ryp maroelas                                                        
10 liter lou water
1.6kg wit suiker                                                               
150g rosyne
10g aktiewe droëgis                                                      
10ml kremetart
10ml wynsteensuur

Sny 'n kruis in elke maroela. Kneus die vruggies liggies en voeg die water en suiker by. Roer dit totdat al die suiker opgelos is. Voeg die res van die bestanddele by. Giet mengsel in 'n plastiek emmer met 'n deksel en laat dit 24 uur lank gis. Syg die bier daarna deur en giet die filtraat in gesteriliseerde bottels. Moenie die bottels te vol maak nie. Net soos met die gemmerbier, plaas 2-3 rosyne in elke bottel en draai die doppe liggies vas. Laat die bier 'n dag of twee by kamer temperatuur gis voordat dit in die koelkas bewaar word.
________________________________________________________________________________

PYNAPPELBIER:

4 groot pynappels se skille                                             
7 liter warm water
1.2kg wit suiker                                                             
12 rosyne
10g aktiewe of kitsdroë gis

Was pynappelstukke goed en plaas dit in 'n groot emmer met 'n deksel. Voeg die water en die suiker by en roer die mengsel totdat al die suiker opgelos is. Voeg die rosyne en gis by, sit die deksel op en laat die mengsel ongeveer 12 uur lank op 'n warm plek gis. Syg die mengsel deur en giet die filtraat in plastiekkanne of bottels. Plaas van die rosyne in elke kan en verseël dit. Bewaar die bier in die yskas.
________________________________________________________________________________

BRANDEWYN-LEMOENLIKEUR:

3 groot lemoene                                                            
250 ml brandewyn
250 g suiker                                                                   
2 ml fyn koljander
2 ml fyn kaneel

Rasper die lemoene se skille. Druk 250 ml lemoensap uit. Meng alle bestanddele en laat staan vir 2 dae lank. Roer mengsel gereeld. Giet mengsel deur doek en verwyder pulp. Giet vloeistof in gesteriliseerde fles en verseël.  Bedien teen kamertemperatuur of verkoel.
_________________________________________________________________________________

FLUWEEL LIKEUR:

1 blik kondensmelk                                                       
1 blik Ideal melk
10ml vanilla                                                                
5ml sterk koffie
200ml whiskey

Meng kondensmelk, Ideal melk en vanilla saam. Meng koffie met die whiskey en voeg by die melk mengsel. Klits goed en bedien of bottel en bêre in yskas.
________________________________________________________________________________

YSTEE:

3 rooibostee sakkies                                                     
1 liter kookwater
30-45ml heuning                                                          
60ml suurlemoensap
ysblokkies                                                                    
suurlemoenskyfies

Laat trek teesakkies ongeveer 5 minute in water.  Verwyder en laat tee effens afkoel tot louwarm. Voeg heuning by en roer tot opgelos. Voeg suurlemoensap by en verkoel tot yskoud. Sit voor op ys met ekstra suurlemoenskyfies.
______________________________________________________________________________
LEMONADE:

500ml suiker                                                                 
250ml water
250ml vars suurlemoensap

Meng die suiker en water in 'n kastrol en verhit dit stadig terwyl dit aanhoudend geroer word totdat die suiker opgelos is. Verhit die stroop tot kookpunt en laat dit 5 minute lank kook oor matige hitte sonder om te roer. Laat die stroop afkoel en voeg die suurlemoensap by. Syg die limonade deur 'n moeseliendoek en bêre dit in 'n houer met 'n deksel in die yskas. Bedien die limonade deur 30ml van die suurlemoenstroop by 'n glas yswater te voeg.
Lewer ongeveer 600ml onverdunde stroop.

No comments:

Post a Comment

Comment