Sunday, March 13, 2011

Lekkers

NOGA:

375ml suiker                                                                
250ml gouestroop
125ml water                                                                  
knippie sout
1 eierwit, styf geklits                                                      
60ml glanskersies, gekap
250ml neute, grof gekap                                             
2ml vanielje geursel

Vermeng die suiker, stroop, water en sout. Verhit dit en roer dit voortdurend totdat die suiker opgelos is. Kook dit verder, sonder om te roer, tot die sagtebal stadium. Haal dit van die plaat af en gooi dit in ‘n dun straaltjie oor die styfgeklitste eierwit.  Klits dit voortdurend met ‘n elektriese klitser. Wanneer die mengsel fatsoen behou, roer die kersies, neute en geursel by. Gooi dit in ‘n gesmeerde oondpan.  Laat staan oornag en sny dit dan in blokkies.
________________________________________________________________________________

TURKSE LEKKERS: (Turkish Delight)

45ml gelatien                                                            
125ml koue water
500ml strooisuiker                                                        
190ml kookwater
4ml wynsteensuur                                                         
1 suurlemoen se sap
5ml vanielje geursel                                                     
rooi voedselkleursel

Spons gelatien in koue water. Verhit suiker en kookwater saam tot suiker opgelos het. Voeg wynsteensuur by en verhit tot kookpunt. Laat vir sowat 5 minute kook. Roer suurlemoensap by en verwyder van hitte. Los gelatien oor warm water op en giet by. Roer deeglik en voeg kleursel by. Kleur mengsel, indien verkies, met ‘n paar druppels voedsel kleursel. Giet in gesmeerde vlak bak en laat afkoel. Sny in blokke en sif versiersuiker oor.
__________________________________________________________________________________

FUDGE:

400g suiker (500 ml)                                                    
45ml water
55ml botter                                                                  
30ml gouestroop
397g kondensmelk (1 blik)                                             
5ml vanieljegeursel.

Meng die suiker en water in 'n swaarboomkastrol en roer dit oor lae hitte totdat die suiker opgelos is. Maak seker dat daar geen suikerkristalle teen die kant van die kastrol vassit nie. Indien dit wel gebeur, borsel dit af met 'n kwassie wat in warm water gedoop is. Voeg die botter en gouestroop by die suikerwater en roer dit totdat die botter gesmelt is. Voeg die kondensmelk by die mengsel en roer dit aanhoudend totdat dit kookpunt bereik. Kook die mengsel ongeveer 25 min lank tot by die sagtebalstadium. Roer dit af en toe om aanbrand te voorkom. Laat die mengsel afkoel totdat dit louwarm is en voeg die vanieljegeursel by. Klop die mengsel totdat dit dik en romerig is. Giet die suikermengsel in 'n gesmeerde pannetjie. Hou die kastrol skuins sodat die mengsel vrylik kan uitloop. Moet nie skud of die mengsel uitskraap nie, want dan kan dit versuiker. Laat die suiker mengsel in die pannetjie afkoel voordat dit in blokkies gesny word. Dit moet heeltemal koud wees voor dit gesny word, anders kan dit verbrokkel.
_________________________________________________________________________________
MALVALEKKERS:

30ml gelatien                                                            
125ml koue water
500ml strooisuiker                                                     
125ml kookwater
rooi voedselkleursel                                                  
10ml vanielje geursel
versiersuiker om lekkers in te rol

Spuit ‘n 2.5liter bak met kleefwerende kossproei. Laat week die gelatien in die koue water tot sponsagtig. Verhit stadig totdat dit heeltemal opgelos is. Voeg die res van die bestanddele by, behalwe die voedselgeursel, vanieljegeursel en versiersuiker, en klits 7-10 minute lank met ‘n elektriese klitser totdat die mengsel begin verdik. Kleur met ongeveer 12 druppels rooi voedsel
kleursel en voeg ook die vanielje geursel by. Meng goed en giet uit in die voorbereide bak sodat die mengsel sowat 1.5cm diep daarin lê. Plaas in yskas tot gestol en sny dan in blokkies. Rol in versiersuiker.  Lewer 65 blokkies.
________________________________________________________________________________

SUURLEMOEN JELLIELEKKERS:

30ml gelatien                                                                 
160ml water
125ml suurlemoensap                                                  
160ml lemmetjiesap
160ml strooisuiker                                                           
160ml glukosestroop (kry by apteek)
groen voedselkleursel (opsioneel)                                   
125ml versiersuiker
60ml mielieblom

Strooi gelatien oor koue water in koppie. Verhit oor pruttende water tot opgelos sodra gelatien gestol het. Verhit vrugtesappe, suiker en glukosestroop oor lae hitte, sonder om te kook, totdat suiker opgelos het. Roer gelatienmengsel en voedselkleursel by sodra opgelos. Giet mengsel in uitgespoelde pan van 15x15cm. Laat afkoel. Bedek en plaas ‘n paar uur in yskas. Keer stolvorm uit en sny in 3cm blokkies. Plaas blokkies op uitgespoelde bakplaat en laat staan sowat 2 dae lank of tot blokkies hul taaiheid verloor het. 
Rol blokkies in mengsel van gesifte versiersuiker en mielieblom en verpak in blikkies of boksies.
_______________________________________________________________________________

KLAPPERYS:

750ml suiker                                                                 
397g kondensmelk
200ml water                                                                   
750ml klapper
‘n paar druppels pienk geursel                                        
5ml vanielje geursel
knypie kremetart

Plaas suiker en water in ‘n swaarboomkastrol en roer oor lae hitte tot die suiker opgelos is. Voeg kondensmelk by en roer tot dit kook. Voeg kremetart by en laat kook sonder om te roer totdat mengsel sagtebalstadium bereik. Verwyder van stoof, voeg klapper en vanielje by en klop mengsel tot dik en romerig. Gooi die helfte van die mengsel in 180mm vierkantige pan. Kleur die res van die res met kleursel en gooi oor die wit laag. Laat afkoel en sny in vierkante wanneer gestol. 
_________________________________________________________________________________

ROOMYS:

410g ingedampte melk (1blik)                                      
397g kondensmelk (1 blik)
2 ml suurlemoenskil, gerasper                                       
5ml suurlemoensap

Plaas die 2 blikke 24 uur lank in die yskas. Giet die ingedampte melk in ‘n mengbak en klits deeglik. Voeg die kondensmelk asook suurlemoenskil en sap by. Klits deeglik. Plaas in die vrieskas om te vries.
Lewer 1.5liter roomys.
_________________________________________________________________________________

SHERBET:

250ml versiersuiker                                                       
 5ml koeksoda
2.5ml wynsteensuur

Sif al die bestanddele goed saam en verpak.
_________________________________________________________________________________

TOFFIES:

625ml bruinsuiker                                                          
250ml water
125g botter of margarien                                               
vanielje essens

Roer die suiker en die water in ‘n kastrol oor stadige hitte tot die suiker alles opgelos is. Voeg die botter by en kook die mengsel sonder om te roer tot dit die ligte kraakstadium bereik het. Voeg die geursel by. Gooi dit op ‘n plat skottel uit wat met botter gesmeer is. Merk klein vierkantjies daarop met ‘n mes voordat dit koud word. Sny in blokkies voordat dit heeltemal hard word.
_______________________________________________________________________________
BORSSUIKER KLONTJIES

500ml suiker                                                                 
knippie sout
150ml water                                                                 
2.5ml kremetart
12.5ml suurlemoensap                                                
geel of oranje kleursel

Roer die suiker, sout en die water in ‘n kastrol totdat die suiker opgelos is. Laat dit dan kook. Skraap al die suikerkristalle van die kante van die kastrol af of kook dit vir 3 minute lank met die deksel op om die kristalle op te los. Voeg die kremetart by en kook dan sonder die deksel tot dit die harde kraakstadium bereik as dit in koue water getoets word. Die mengsel sal van kleur verander as dit daardie temperatuur bereik. Voeg die suurlemoensap, geursel en kleursel by en verwyder van die hitte. Drup dit van die kastrol op ‘n gesmeerde marmerblad of plat enemmelskinkbord sodat klein ronde klontjies vorm. Laat dit koud en hard word en pak dit in ‘n digte fles weg.
__________________________________________________________________________________

BOTTERKARAMEL (Butterscoth)

350ml bruinsuiker                                                          
10ml asyn
200g botter                                                                    
200ml water
2.5ml vanieje essens

Meng suiker, asyn, botter en water in ‘n kastrol. Roer dit oor stadige hitte tot die suiker opgelos is. Kook sonder om verder te roer tot dit die harde kraakstadium bereik het, as dit in koue water getoets word. Voeg die vanielje essens by en gooi dit in ‘n vlak pan uit wat met botter gesmeer is. Laat dit effens afkoel en merk vierkantige blokkies daarop uit voordat dit hard en koud is. Breek in stukkies as dit koud is.
________________________________________________________________________________

MEBOS:

1.5kg droë appelkooshelftes                                           
kookwater
15ml sout                                                                      
1.5kg suiker
ekstra suiker

Plaas die appelkooshelftes in 'n groot skottel, bedek dit met kookwater en laat dit 10 minute lank week. Moet dit nie langer laat lê nie, anders word dit te pap om mee te werk. Dreineer die appelkose en spoel dit onder lopende koue water af. Druk dit so droog moontlik met 'n papierhanddoek. Maak die appelkooshelftes fyn in 'n voedselverwerker, of maal dit 2 maal deur 'n vleismeul. Voeg die sout by die appelkoospulp en meng dit goed. Voeg die suiker by die appelkoosmengsel en meng deeglik. Bedek die bak met 'n lap en laat staan vir 'n uur. Vorm die mengsel in balletjies, rol dit in die ekstra suiker en druk dit plat. Pak die mebos in lae in 'n blik met botter of waspapier en 'n lagie suiker tussenin.

No comments:

Post a Comment

Comment