GROEN TAMATIE BLATJANG
3kg groen tamaties
125 ml sout
1½ kg fyn gekapte uie
750ml suiker
1,875 liter asyn
Verwyder ogies van tamaties, sny in blokkies, sprinkel sout oor en laat staan oornag. Dreineer oortollige vloeistof. Roer gekapte uie, suiker en asyn by. Laat kook 1 uur sonder deksel.
90 ml koekmeel
30 ml kerrie
30 ml mosterd
15 ml rooipeper
15 ml borrie
125 ml appelkooskonfyt
375 ml asyn
Meng al die bestanddele baie goed sodat al die klontjies opgelos is. Voeg 250ml van die warm tamatiemengsel by die kerriemengsel en roer. Gooi die kerriemengsel by die kokende tamatie mengsel. Kook 15 minute terwyl u voortdurend roer. Gooi warm mengsel in gesteriliseerde bottels en verseël.
__________________________________________________________________________________
APPEL BLATJANG:
1 kg groen appels
1 groot ui, gerasper
375ml bruinsuiker
375ml asyn
125ml lemoensap
3 brandrissies, fyn gekap
5ml gemaalde gemmer
sout na smaak
3 knoffelhuisies, gekneus
Skil em ontkern appels. Rasper die appels. Meng al die bestanddele goed saam. Laat prut dit ongeveer 40 minute lank totdat die blatjang dik en souserig is. Skep die blatjang in warm gesteriliseerde flesse en maak seker dat daar geen lugblasies vorm nie. Verseël dit. Bewaar die blatjang op ‘n koel droë plek.
_________________________________________________________________________________
PIESANG BLATJANG:
12 geskilde piesangs, in ringe gesny
250 ml sultanas
2 groot gekapte uie
250 ml suiker
15 ml kerriepoeier
500 ml wit asyn
15 ml sout
knippie rooipeper
2 stukke pypkaneel
Meng die bestanddele in 'n geskikte kastrol en prut stadig tot dik. Kook sonder 'n deksel en roer gereeld omdat dit baie maklik aanbrand. Die blatjang behoort binne sowat 35 minute dik en geurig te wees. Proe en verwyder die kaneel. Skep in gesteriliseerde flesse.. Bewaar om ryp te word.
____________________________________________________________________________________
WARM MANGO BLATJANG:
1,5kg groen mango's, geskil, gehalveer,ontpit
70ml sout
2 liter water
500g suiker (625 ml)
600ml asyn
125 g dadels, ontpit en gekap
'n stuk vars gemmer, geskil en fyngekap
6 knoffelhuisies, gekneus
10 ml rissiepoeier
1 kaneelstokkie
125 g pitlose rosyne
Kap die mango's in klein stukkies, plaas in 'n mengbak. Sprinkel sout oor en voeg water by. Bedek en laat 24 uur staan. Dreineer die mangostukkies en plaas eenkant. Plaas suiker en asyn in 'n kastrol en verhit tot kookpunt, verminder die hitte en laat prut totdat die suiker opgelos is. Roer voortdurend. Voeg die gemmer, knoffel, rissiepoeier, kaneelstokkie, rosyne, dadels en gedrei neerde mango by. Verhit tot kookpunt, verlaag die hitte en laat 1 tot 2 uur onbedek prut of totdat die blatjang dik is. Roer af en toe. Verwyder die pypkaneel. Skep die blatjang in warm, gesteriliseerde bottels en verseël.
_________________________________________________________________________________
KWEPER BLATJANG:
500g kwepers in baie fyn stukkies gekap
2 groot uie, gekap
250g pitlose rosyne
2 knoffelhuisies, fyngedruk
15ml fyn koljander
15ml growwe sout
500ml bruin asyn
1 skerp rooi rissie, fyn gekap
15ml fyn gemmer
375ml bruin suiker
Meng al die bestanddele in 'n groot kastrol. Kook stadig tot mooi dik en donker van kleur -sowat 2 uur lank. Bottel in gesteriliseerde flesse. Bêre op 'n koel donker plek om ryp te word vir minstens 'n maand. Lekker eet!
______________________________________________________________________________
PAMPOEN BLATJANG:
1kg pampoen geskil, ontpit ,in blokkies gesny
2 groot uie gekap
250g sultanas
1,25 liter asyn
125ml suiker
60g mosterdpoeier
20ml sout
15ml borrie
5ml fyn naeltjies
1ml gemengde speserye.
Plaas pampoen, uie, sultanas en asyn in 'n kastrol en kook tot sag. Plaas pampoen, uie, tesame met res van die bestanddele in 'n voedselverwerker of versapper en maak fyn. Indien te styf, voeg bietjie van die asyn waarin die pampoen gekook is, by. Skep in gesteriliseerde bottel en verseël.
___________________________________________________________________________________
PERSKE BLATJANG:
500g geelperskes
2 uie, gekap
10ml sout
3ml koljanderkorrels
2ml piment-of –wonderpeperkorrels
2ml peperkorrels
5ml matige kerriepoeier
1ml sout
250ml wit asyn
12.5ml mielieblom
25ml koue water
100ml kookwater
100ml suiker
Spoel perskes af om hare te verwyder. Halveer en snipper in dun skyfies. Bedek perskesnippers en gekapte uie met water waarby 10 ml sout gevoeg is. Laat staan vir 'n uur. Kook vir 20 – 30 minute in ‘n kastrol, nadat 100ml kookwater bygevoeg is. Kook intussen speserye, sout en asyn vir 3 minute in ‘n ander kleiner kastrol. Voeg asynmengsel by gaar perskemengsel. Meng mielieblom en koue water tot glad. Roer kookwater en suiker by mielieblommengsel. Kook vir ongeveer 5 minute of totdat sous verdik. Skep blatjang in warm, skoon, glasbottels en verseël. Bêre op ‘n koel donker plek.
__________________________________________________________________________________
PRUIMEDANT BLATJANG:
750ml asyn
5ml gemaalde gemmer
5ml gemengde speserye
5ml fyn kaneel
5ml droë mosterd
2.5ml brandrissie poeier
knypie gemaalde naeltjies
knypie gemaalde neutmuskaat
1.5kg ryp pruime, gewas, gehalveer en ontpit
500g pitlose rosyne
600g appels geksil, ontpit en in stukke gesny
500g suiker
500g wortels, geskil en grof gerasper
30ml sout
2 groot mango’s, geskil, ontpit, gesny in stukke
600g uie, geskil en gekap
Giet die asyn en speserye in ‘n groot kastrol en bring tot kookpunt. Voeg al die oorblywende bestanddele by en roer goed. Bring weer tot kookpunt. Draai die hitte af nadat kookpunt bereik is en kook oor ‘n lae temperatuur vir 2½ uur. Roer gereeld sodat die mengsel nie aanbrand nie. Kook blatjang tot dik. Wanneer jy ‘n lepel deur die mengsel trek en die twee kante stadig na mekaar toe loop is die blatjang reg. Wanneer die blatjang reg is, haal dit van die stoof af en gooi ‘n vadoek oor die pot. Laat oornag afkoel. Skep die volgende dag in botteltjies. Die deksels moet met plastiek uitgevoer wees, sodat die asyn nie met die deksel in aanraking kom nie. Bêre op ‘n droë plek. Vir beste resultate gebruik eers na ‘n maand.
____________________________________________________________________________
BEET BLATJANG:
750 ml suiker
500 ml bruin asyn
6 kopppes gaar beet, geskil en in blokkies gesny
2 groot uie, fyn gekap
15 ml kerriepoeier
5 ml sout
45 ml mielieblom, aangemaak met bietjie water
Meng suiker en asyn in 'n kastrol. Verhit oor lae hitte. Roer tot die suiker opgelos is en begin kook. Verhit tot kookpunt, voeg beet en uie by en kook nog 5 minute. Meng kerrie, sout en mielieblom met 'n bietjie water om 'n lopende pasta te vorm. Voeg by die beet en kook 5 minute deur. Skep warm in gesteriliseerde bottels en verseël.
No comments:
Post a Comment
Comment